NAG VAN MISLEIDING - DAG VAN VERNIETIGING: DAG EN NAG AS MOTIEWE IN AISKHULOS SE PERSE*

  • F. Saayman Stellenbosch University

Abstract

Die begrippe "dag" en "nag", met gepaardgaande "verberging" en "openbaring", vorm 'n kontrasterende stel motiewe, hoofsaaklik in die eerste helfte van die Perse, wat kulmineer in die boodskapper se hoof beskrywing van die slag van Salamis in reels 353-432. Eerstens is daar die natuurlike kontras tussen dag en nag soos ervaar deur Atossa aan die een kant, en die Persiese vloot aan die ander kant. Vir elkeen van hierdie karakters speel die kontras tussen dag en nag 'n tematiese rol. Vir Atossa het die nag 'n slegte konnotasie, terwyl die dag vir haar 'n simbool van voorspoed is. In kontras hiermee het die Persiese vloot positiewe verwagtings in die nag, wat telkens verpletter word in die daaropvolgende dag. Tweedens vorm "verberging" en "openbaring" deur die nag en dag ook 'n kontras tussen Atossa en die vloot. Atossa "sien" in die nag, terwyI, vir die vloot, die nag alies verberg. As Atossa weI in die dag sien, sien sy 'n voorteken van die Persiese nederlaag. Insgelyks, wanneer "verberging" in die dag ter sprake kom, is dit die wrakstukke van die Persiese vloot wat die see verberg. In albei karakters se geval werk hierdie motiewe mee om 'n kontras te skep tussen die nag voor Salamis en die dag van die geveg. Hierdie kontraste dien die ironie van die Persiese verwagting voor die tyd, en die werklikheid van Salamis.
Published
2014-03-30
Section
Articles